Amberboom / Liquidambar styraciflua

Die Amberboom laat ons aan herfs dink en vertoon regtig skouspelagtig en is ‘n baie gewilde ornamentele boom. Dit is ook bekend as “sweetgum, hazel pine, redgum en satin walnut”. Hierdie boom is in die familie Altingiaceae en die genus is Liquidambar en in die rang Saxifragales. Hierdie plant se botaniese naam “Liquidambar” was in 1753 aan hom toegedig deur Linnaeus en is uit Latyns vertaal. Die woord  “styraciflua” beteken “storaks”.

 

Die Amberboom is oorspronklik van die warm gedeeltes in Noord Amerika, tropiese gedeeltes in Meksiko en ook die Sentrale tropiese gedeeltes van Amerika. Hierdie boom is deur ‘n Spaanse natuurkundige, Francisco Hernandez gepubliseer in 1651. Dit is vir die eerste keer in 1681 in Europa deur John Banister bekend gestel.

 

Hierdie pragtige boom is ‘n hardehout boom en word onder die groot bome geklassifiseer. Dit word 10 – 15 meter hoog en in die bos waar hulle wild voorkom kan hul tot 46 meter hoog word. Die stam van hierdie boom word tot 1 meter dik en die Amberboom kan tot 400 jaar oud word. Die boom het ‘n simetriese vorm en die kroon is eiervormig wanneer die takke te swaar word.

 

Die eienaardige van hierdie boom is dat die takke pieperig voorkom. Met ‘n bietjie verbeelding lyk die takke wanneer hulle sonder blare is, soos reptiele. Volgens sekere bronne word hierdie boom dan ook die Krokodil hout genoem. Die bas van die boom is ligbruin maar daar is rooi tot grys strepe in en baie grof. Van die stamme dra dan lae wat soos kurk lyk.

 

Die blare van die boom is gewoonlik herfskleure en het vyf punte en is stervormig.  Hierdie blare is lank en blink en sag. Hulle is veral gedurende die herfs en winter sommer ekstra oranje/geel/rooi. Die Amberboom dra klein groen blomme in die herfs en is met roesbruik hare bedek. Na die blomtyd maak dit ‘n harde, droë saad soos ‘n kapsule en binne-in hierdie kapsule is een of twee klein saadjies. Die sade skiet vanself oop wanneer hulle ryp is. Tussen 30 en 90 dae sal die sade wat dig onder die bome lê, ontkiem maar kan ook in water geweek word en dan geplant word.

 

Die hout van hierdie boom is ‘n helder rooibruin kleur en word gebruik om matte te weef en ook laaghout vir meubels, kratte en allelrhande ander vervaardigings. Dit dra ook ‘n gom en is helder rooi of geel. Dit ruik na barnsteenolie.

 

Ons kan ook hierdie boom by die kus plant aangesien hy ‘n matige soutweerstand het. Waar hierdie boom geplant word sal die grond suur word. Die boom wil egter in die son staan.

 

Tuiniers plant maar gerus hierdie pragtige sierboom in u tuin. Geniet die koeler weer in u tuin tot volgende keer.