Zuma en SA-politici kry fris salarisse

Suid-Afrika se president Jacob Zuma is die vierde hoogste besoldigde staatshoof in die wêreld en oortref leiers van veel groter ekonomieë.

Zuma se R2,7 miljoen word trouens net geklop deur Amerika se Barack Obama (R4,8 miljoen), Kanada se Stephen Harper (R3,1 miljoen) en Angela Merkel van Duitsland (R2,8 miljoen).

Hy klop ook die staatshoofde van die Brics-lande loshande. Die Chinese spog met die tweede grootste ekonomie, maar president Xi Jinping kry ‘n beskeie R264 000 op papier.  Vladimir Poetin van Rusland kry ‘n salaris van R1,6 miljoen en Brasilië se Dilma Rouseff ontvang R1,4 miljoen. Die Indiese president, Narendra Modi, ontvang R262 600.

Die groot vraag is of Zuma se inkomste dienooreenkomstig sy effektiwiteit is, sê die direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid in Suid-Afrika, adv. Paul Hoffman.

In die lig van die land se sosio-ekonomiese probleme is dit volgens hom onvanpas dat Suid-Afrika se president een van die wêreld se bes betaalde verdieners is.

Indien politici hulleself fantastiese salaris gun dan word politiek ‘n geldmaak onderneming in plaas daarvan om die mense te dien op ‘n openlike, verantwoordbare en verantwoordelike wyse, aldus Hoffman.

Suid-Afrikaanse ministers kry vanaf 1 April vanjaar meer as R2 miljoen en adjunk-ministers sal ‘n salaris van R1,82 miljoen ontvang.

Burgemeesters in Suid-Afrika sal vanaf 1 April R1,15 miljoen kry.