Wes-Transvaal lughawe kry subsidie

Die regering van Wes-Transvaal het besluit om die staat se SA Express lugdiens te subsidieer met sowat R84 miljoen sodat vlugte weer ingestel kan word na Mafeking.

Die aankondiging is deur die provinsie se LUR vir Finansies gemaak tydens haar begrotingsrede.

Kenners wys daarop dat die skenking sowat R239,000 per dag sal beteken terwyl watervoorsiening in die provinsie se dorpe ’n baie groter probleem is wat nie aangespreek word nie.

Waarnemers meen die skenking word gedoen om die belangrike lede van die Anc te vervoer na waar hulle wil wees, terwyl die arm mense in die provinsie nie toegang het tot skoon water nie. Verskeie gebiede het die afgelope week feitlik geen water gehad nie, en verskonings van opgradering is gemaak terwyl die situasie onveranderd gebly het

Benewens die skenking, is ’n verdere R40 miljoen bewillig om opgraderings by die lughawe te doen.

Die ironie is dat die provinsie vanjaar sowat R138 miljoen minder sal ontvang van die nasionale regering.

Die provinsie se munisipaliteite toon ’n onvermoë om die water krisis op te los, wat daartoe gelei het dat hernude opstande en betogings besig is om te vermeerder in verkillende munisipale gebiede.

Inwoners van Schoemansville by die Hartbeespoortdam, het die afgelope naweek die brandkraan in hul dorp gaan bewaak omdat watertenkers onwettig daar gaan water inneem. Daagliks is sowat 20 vragmotors met tenkers onderweg om by die brandslang te gaan water steel.

Na raming hou ’n watertenker sowat 10,000 liter water, waarvoor die diewe nie betaal nie omdat brandslange nie met meters toegerus word nie.

Die waterdiewe steur hulle blykbaar nie aan die moontlikheid dat die opgaartenks leegloop wat die beheer van brande wat mag ontstaan, onmoontlik maak.