Wes-Kaap se pampoene die swaarste

Wes-Kapenaars  is nie sulke pampoene nie, dit is net ’n feit dat hulle die swaarste pampoene daar kweek, en van Suid-Afrika se grootste knewels produseer in die Heidelberg omgewing.

Twee van Heidelberg se inwoners het onderskeidelik die eerste en tweede plek verower by die Shoprite en Checkers se reuse-pampoen-kompetisie.

Nie minder as vyftien ervare pampoen-planters van oor die hele land, het die afgelope naweek aan die kompetisie deelgeneem in Durbanville tydens hulle plaasfees.

’n Boukontrakteur, mnr. Pinkie Swart, van Heidelberg se stoet-pampoenkampioen het die skaal op ’n yslike 483,6 kg  getrek.

’n Boer van Heidelberg, mnr. Karel Robertson van Arista-boerdery, het nie vêr teruggetaan met sy pronk-pampoen wat 474,5 kg geweeg het en mnr. Johan du Plessis van Worcester was derde met sy knewel-pampoen van 456,5 kg.

Die rekord vir die swaarste pampoen in Suid-Afrika word gehou deur Pinkie Swart met sy bobaas-pampoen wat 497,5 kg geweeg het.

Swart sê vanjaar se kampioen is gekweek met saad van verlede jaar se wenner.

Die wenner het weggestap met ’n prysgeld van R12,000.

Die swaarste pampoen wat nog gekweek is, en die amptelike wêreldrekord hou, is in Switserland verbou en het 1054 kg geweeg.