Vrystaat gereed vir opstand

As daar werklike pogings is om die naam van die Vrystaat te verander, kan die ANC weet dat die inwoners in opstand gaan kom, in so ’n mate as wat hulle nog nie ondervind het in dié provinsie nie.

Dit is die uitspraak van verskeie Vrystaters nadat dit bekend geword het dat die provinsie se regeerders dit beplan om die Vrystaat se naam te verander.

Terwyl die ANC self begin het om terug te krabbel ná Mathabo Leeto, ’n LUR van die provinsie, se eensydige aankondiging dat die provinsie se naam gaan verander, het talle inwoners hulle misnoeë uitgespreek oor die uiter onverantwoordelike optrede van ’n ANC hooggeplaaste.

Inwoners wys daarop dat die ANC ’n revolusie gaan ontketen deur te torring aan die naam van die Vrystaat, en wys daarop dat Art. 103 van die land se Grondwet eers verander moet word voor die Vrystaat kan dink aan ’n naamsverandering.

“Maar voor ons by daardie punt kom, sal hier ’n opstand in die Vrystaat kom wat nog nooit tevore gesien is nie”, was die mening van ’n inwoner van Bloemfontein wat verkies het om anoniem te bly.

Die name van dorpe en strate mag miskien toelaatbaar wees as die korrekte prosesse gevolg word, maar die provinsie se naam is iets heel anders, het ’n kenner later uitgewys.

“Die opmerking deur die LUR toon egter die onkunde van ’n persoon wat niks van die reg verstaan nie, en behoort uit haar pos ontslaan te word, het ’n ontevrede inwoner gesê.

Die aankondiging het gekom nadat dit ook bekend geword het dat sowat 36 plekname in die provinsie verander gaan word.

Ene Thabo Meeko, ’n ANC-woordvoerder in die provinsie het glo gesê die party het nog nie so ’n moontlikheid ter tafel geneem nie, en derhalwe is daar geen rede om oor die saak te bespiegel nie.

Hy sê die LUR sien die naam van die provinsie steeds as ’n koloniale term.

Wouter Wessels, VF+-leier in die Vrystaatse wetgewer, het premier Ace Magashule aangeval omdat hy Kubane werf terwyl munisipaliteite, hospitale en algemene infrastruktuur daagliks agteruit gaan.

“Waarom verander jy nie die Vrystaat se naam na Kuba nie”, het hy gevra.

Waarnemers wys daarop dat die Oranje-Vrystaat se naam na Vrystaat verander is deur die huidige regering gedurende 1994.

Foto – Wouter Wessels