Suksesvolle aanlyn wildveiling gehou

Om duisende kilometer afstande te ry na ’n wildveiling is nie goedkoop nie, en kos potensiele kopers ’n aardige bedrag aan reiskoste, verblyf en tyd wat spandeer word om dikwels onverrigter sake terug te keer sonder dat een dier gekoop kon word.

Nou het SA Auction Group se splinternuwe afdeling, Wildlife Online Auctions, hulle eerste suksesvolle aanlyn-veiling aangebied wat ’n reuse sukses was en getoon het dat die Suid-Afrikaanse wildbedryf na groter hoogtes styg.

Sowat 250 diere van die Bo-Karoo het onder die spreekwoordelike “internet-hamer” gekom en in die die meeste gevalle is die reserwepryse met groot bedrae oortref.

Koedoebulle, buffels, springbokke, gemsbokke, en wit blesbokke asook wit springbokke en elande is van die hand gesit.

Sebras, bontebokke en ’n swartwitpens was ook te koop gebied wat kopers ’n verskeidenheid van sowat 15 spesies gegee het om van te kies.

’n Bontebok teelgroep is van die hand gesit teen R131,500 per bok wat ’n bewys is dat die aanlyn-veilings beslis in die toekoms meer gesien sal word.

’n Woordvoerder van SA Auction Group, sê rassuiwer bokke, soos die Kalahari koperspringbok, gaan binnekort baie duur word, en die klompie wat by die veiling aangebied is, het vir R55,000 per kop verkoop.

Aanlyn veilings het die voordeel dat die diere aan veel minder stres onderwerp word omdat dit nie die hele dag onder onnatuurlike omstandighede aangehou moet word vir besigtiging nie.

SA Auction Group sê die meer as 40 geregistreerde kopers was tevrede met die kommunikasie-stelsel en die maatskappy het enkele kleiner haakplekke geïdentifiseer wat uitgeskakel sal word in toekomstige veilings.