Staatshospitaal-base vir gunslone bekyk

Nóg ‘n ondersoek gaan geloods word en hierdie keer is die grootbase van staatshospitale die teiken omdat hulle na bewering in ruil vir ‘n gunsloon prokureurs wenke gee oor wanpraktyke in hulle eie hospitale.

Die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die media meegedeel dat die ondersoek in Sentraal-Transvaal sal begin, maar wou nie enige name verskaf nie.

Volgens Motsoaledi span die uitvoerende hoofde nie net saam met privaat prokureurs nie, maar ook met staatsprokureurs. Laasgenoemde sorg dan dat hulle sake “wanbestuur” en swak voorberei sodat die regime sy saak verloor, aldus die minister.

Volgens hom bly die uitvoerende hoofde in gebreke om norme en standaarde toe te pas met die hoop dat iets tydens die behandeling van pasiënte sal skeefloop.

Hulle lig prokureurs dab in om met ‘n regsproses te begin en help hulle deur al die nodige inligting en dokumente beskikbaar te stel.

Motsoaledi se aantygings volg kort nadat hy ‘n beraad gehou het oor die onrusbarende styging in eise omtrent mediese wanpraktyke. Die toename is hofsake blykbaar sodanig dat dokters nie eens meer in sekere mediese rigtings wil spesialiseer nie.