Skokpryse vir krag en brandstof

Verbruikers gaan vanaf aanstaande maand behoorlik kaal gepluk word deur elektrisiteit- en brandstofprysverhogings.

Direkte elektrisiteitsverbruikers kan vanaf 1 April ‘n verhoging van 12,69% te wagte wees, terwyl munisipale verbruikers van 1 Julie met ‘n verhoging van 14,25% geslaan sal word in ooreenstemming met die Nasionale Elektrisiteitsreguleerder (Nersa) se goedgekeuring.

Eskom dreig intussen met verdere verhogings.

Volgens Kaapstad se stadsraad oorweeg die elektrisiteitsverskaffer ‘n 9.58% aanpassing benewens die reeds aangekondigde 12,69% verhoging wat vir die 2015/16 finansiële jaar aangekondig is en die stadraad sê hy sal geen ander keuse hê as om dit na verbruikers deur te gee nie.

Eskom se “finansiële beperkinge” word gebruik as verskoning vir ‘n verdere hersiening van tariefverhogings vir die 2015/16-finansiële jaar.

Die petrolprys kan met tot soveel as R2, 00 verhoog word, word voorspel. Die departement van energie sal die aanpassing in die brandstofpryse vir April na verwagting teen Vrydag bekend maak.

Belastings (brandstofheffings) en ‘n hoër heffing vir die Padongelukkefonds (POF) sal 81 sent tot die brandstofprysverhoging bydra. Die swak rand vertroebel verbruikers se vooruitsigte verder.