Regering gestriem oor menseregte

Waarom die dubbele standaarde betreffende rassisme en menseregte in Suid-Afrika? Waarom word al hoe meer weggekyk wanneer wittes slagoffers van misdaad word? Is dit omdat onder andere joernaliste weens politieke korrektheid bang is om die waarheid hieroor te skryf?

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het in die menseregtedebat in die parlement oor hierdie aangeleentheid gepraat en ondermeer die volgende gesê:

Onlangs is ʼn bejaarde egpaar naby De Wildt op hulle kleinhoewe deur drie jong mans aangeval. Mnr. Motswaledi Moloto is 80 en sy vrou Constance Moloto 74. Die aanvallers was drie jong wit mans. Die jong witmans het mev. Constance Moloto met ʼn byl aangerand en rassistiese opmerkings gemaak. Toe mnr. Motswaledi Moloto nie die sleutels van sy motor vir die jong witmans wou gee nie, het hulle ʼn strykyster warm gemaak en hom op sy bene gebrand. Die bure wat hom later na die hospitaal geneem het, het beskryf hoe die vel van sy bene afgeval het as gevolg van al die brandwonde aan sy bene.

Is hierdie gewone misdaad of is dit rassisme? Hieroor kry jy verskillende menings. Ek sal dit as wit rassisme beskryf vanweë die wreedheid van die misdaad en die rassistiese opmerkings.

Die aanval het vroeër vanjaar plaasgevind met een verskil. U het nie daarvan in die media gelees nie. Die koerante en televisie het dit grootliks geïgnoreer. Hoekom? Omdat die aanval nie op mnr. Moloto was nie maar op die bejaarde egpaar Hannes en Annetjie van der Merwe van De Wildt. Hulle is wit en die aanvallers was swart. As dit drie jong witmans was op ʼn swart egpaar sou dit Suid-Afrika tot stilstand geruk het; elke radio geselsprogram sou ure oor die rassisme uitgewei het, die menseregtekommissie sou dit onmiddellik ondersoek het en politici sou woedende verklarings daaroor uitgereik het.

Waarom hierdie dubbele standaarde? Is dit politieke korrektheid? Is joernaliste bang om die waarheid te sê?

Toe transitorooftogte ʼn krisis was, het die minister dit ʼn prioriteitsmisdaad gemaak. Binne twee jaar was die probleem grootliks opgelos. Waarom kan dit nie ook met plaasmoorde gedoen word nie?