Puk-gebeure simptoom van epidemie

Die Redakteur

Wat tans by die Puk aan die gang is, is ‘n simptoom van al die siektes wat die afgelope twintig jaar in Suid-Afrika ‘n volskaalse epidemie geword het.

Eintlik moet dit voor 1994 gaan haal word en om dit ‘n begindatum te gee, kan die Dakar-byeenkoms van ‘n klomp “Afrikaanses” in Julie 1987 met verteenwoordigers van die ANC gebruik word. Natuurlik strek die aanloop verder terug, maar die uitvloeisels daarvan is nou aan die orde.

Die Dakar-gangers het byvoorbeeld prof. Theuns Eloff ingesluit en hy was daarna vanaf 1990 direk betrokke by politieke onderhandelinge en was tot Mei 1994 adjunk-uitvoerende direkteur van die Uitvoerende Oorgangsraad. Prof. Eloff was tot onlangs die vise-kanselier van die Puk. Sy uitgetrede het verlede jaar plaasgevind knap na ‘n groot herrie in die dagbladpers oor ‘n sogenaamde “Nazi-saluut” tydens koshuisgangers se ontgroening.

Verskeie ondersoeke oor ‘transformasies’ op die kampus het gevolg. Ondanks die feit dat geen ‘rassisme’ gevind kon word nie, het die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) wat toevallig ook die minister van hoër onderwys en opleiding is, Blade Nzimande, sy eie planne met die instelling. Dit blyk duidelik uit wat hy sedert verlede jaar kwytgeraak het en die feit dat daar geen rus of duurte by die huidige vise-kanselier, Dan Kgwadi, is oor die Noordwes Universiteit NWU se bestuursmodel nie. Die afgelope jaar het die spanning hieroor sodanig opgebou dat die media gedurig daaroor berig.

Die  Kgwadi-plan sluit onder meer in dat die drie kampusse, naamlik die Vaaldriehoek-, Potchefstroom en Mafeking-kampusse net een dekaan per fakulteit oor kampusgrense heen moet deel. Daar word te kenne gegee dat dit oor besparing handel.  Baie meer is egter op die spel en die sentraliseringsplan is ‘n tipies kommunistiese magspel om (finaal) beheer oor te neem. Die uitslag hieroor sal teen die middel van vanjaar bekend wees. 

Die kringloop kan teruggevoer word na die ANC waarmee desjare in Dakar onderhandel is. Daar is destyds met kommuniste onderhandel en tot op hede is die ANC steeds kommunisties en word beheer deur die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP). Iemand soos president Jacob Zuma se beduidende rol in die SAKP blyk uit sy geskiedenis en ook wat in sy bewindstydperk gebeur het tot op datum. 

Die epidemie (of ‘n rewolusie soos die kommuniste dit noem) wat Suid-Afrika volskaals onder ‘n kommunistiese bewind teister, is die agteruitgang van die land weens die ondergang van instellings wat eens goed gewerk het en gewelddadigheid wat in ernstige misdaad en verwoestende protesbetogings manifesteer.

Die Puk se Christelike karakter wat duidelik in sy simbole en sy lewensbeskoulike benadering weergegee en aan studente oorgedra is, is met die oorname van die ANC-bewind heel eerste op die kommunistiese altaar geplaas. As laaste vesting kom Afrikaans as voertaal en alles wat dit sou onderskei van akademiese instellings wat roemloos in Suid-Afrika versink nou aan die beurt.

Die pionierswerk van die grondleggers en opbouers van die Puk, naamlik die bekeerde Jood, Cachet, die nederige geloofs- en volksman, Totius, en al hul Christelike opvolgers is ingeboet. Aan hierdie Christelike karakter het die Puk allereers sy ontstaan te danke en dit het die universiteit saam met akademiese uitnemendheid sy bestaansreg gegee. Hieraan was Afrikaans as moedertaal en die volksidentiteit van Afrikanerskap onlosmaaklik verknoop.

Miskien moet ons maar eerder begin om opleiding te gee en ontvang in Redeneerkunde soos die ou-Grieke, eerder as om te klou aan Afrikaanse grade sonder klemplasing op Christenskap en Afrikanerskap.

Respek vir jou ononderhandelbare geloof en volkskap dwing ander se respek af want dit beteken daar is beginsels (‘n ruggaat) betrokke. Daarsonder beteken ‘n graad op die lange duur weinig en lyk die praktyk soos dit hom nou in Suid-Afrika afspeel.

 

Oud-Puk

Pretoria