Pronkertjies / "sweet pea" (Lathyrus odoratus)

Pronkertjies is seker een van ons gewildste, welriekendste tuinblomme in Suid Afrika. Dit is ‘n blomplant in die familie Fabaceae en die gegun is Lathyrus in die orde Vicieae. Oorspronklik kom pronkertjies uit Sicilie, Suid Italië en die Egeïese Eilande.

 

Pronkertjies is ‘n jaarplant wat rank en moet ‘n stut of heining hê om teen op te rank. Die plante groei tot 2 meters hoog wanneer hulle ‘n goeie heining of stut het. Pronkerttjies blom in die lente en hulle blom oorvloedig in allerhande kleurskemas en ruik te heerlik soet. Die blare van die plant is veervormig met twee lobbe en groei aan ‘n lang dun stingel en daar is ook krullerige rankies, soos by druiwe, wat tussen hierdie heldergroen blare uitgroei. Hierdie krul rankies help ook die plant om goed vas te klou aan die heining sodat die plant kan rank. Die blomme se kleure wissel van wit tot donker pers en is 2 – 3.5 cm breed. Daar is ook verskeie kultivars van hierdie pragtige blomme. Deesdae is daar so hier en daar ‘n gelerige pronkertjie, maar dit is nog baie moeilik om dit aan die groei te kry. Dit is so skaars soos ‘n blou roos. Ons kry ook die dwerg pronkertjies wat nie nodig is om te stut nie en hulle vertoon net so pragtig in die lentetuin met dieselfde blare en blomme as die rank pronkertjies.

 

Pronkertjies groei baie goed van saad of saailinge wat ons by kwekerye van nou af sal kan koop. Om die bedding voor te berei voor die saailinge geplant word, moet die grond goed benat word ‘n dag voor die tyd. Pronkertjies moet in volson geplant of gesaai word. Indien u dit self gaan saai, is dit raadsaam om pronkertjiesaad die vorige aand in water te week.

 

Hul verkies goed dreinerende grond. Tuinafval soos takkies, snoeisels, blare en grassnysels kan ook oor die grond gestrooi en ingespit word. Gebruik ook kompos van ‘n goeie gehalte, ou kraalmis en beenmeel om in die los grond in te werk voordat die saad gesaai word. Hou die grond klam totdat die saad ontkiem het en gee dan gereeld water wanneer u sien dat die bolaag droog begin raak. ‘n Komposdeklaag om die plante word aanbeveel om die wortels koel te hou. Voed die saailinge een of twee maal met ‘n groeistimulant om hulle sterk en gesond te maak. Moenie bang wees om die saailinge se groeipunte uit te knyp as hulle ongeveer 15 cm hoog is nie. Dit bevorder ‘n bosagtige plant wat baie goed gaan blom.