Polisie is vet en siek

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gaan onderwerp word aan ‘n intensiewe oefenprogram aangesien 76% amptenare op nasionale vlak oorgewig en obees is.

Hulle ly ook aan kwale soos hipertensie, cholesterol en diabetes sodat baie lede dikwels engiets van 15 tot 30 dae van die werk af wegbly. Die misbruik van gewoontevormende middels is ook as ‘n ernstige probleem onder polisielede geïdentifiseer.

Hierdie bevinding is bekend gemaak nadat meer as 53 000 lede deur hulle mediese skema, Polmed, vir verskillende gesondheidsprobleme getoets is.

Die adjunk minister van die polisie, Maggie Sotyu, meen dit is tyd om op te tree omdat dit nie normaal is om 76% obesiteit in die polisiediens te hê nie.

Volgens haar moet die leierskap van die polisie iets doen omdat daar nie verwag kan word dat die SAPD-lede misdaad moet bekamp indien daar nie na hulle welstand omgesien word nie.