‘Polisie’ beroof groothandelaar

Vier mans geklee in polisieklere het ’n groothandelsaak by Robertson, in die Wes-Kaap beroof met R5 aanvalsgewere.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, van die polisie het die Robertson-polisie inligting ontvang van ’n gewapende rooftog by Raimondi Wholesalers maar by hul aankoms het die rowers reeds gevlug.

Kringtelevisie se materiaal wys verskeie van die rowers in polisiedrag waarvan minstens twee toegerus was met koeëlvaste baadjies van die Suid-Afrikaanse polisiediens.

’n Ander een het ’n pet van die polisie gedra terwyl ’n ander een met ’n “polisie dossier” op die toneel was.

Een man was toegerus met ’n R5 geweer, en die ander het ook elkeen met ’n vuurwaopen die gebou ingegaan.

Kliënte en personeel is van kontant, juweliersware en selfone beroof, waarna kruideniersware, ’n vuurwapen en ’n onbekende bedrag geld van die onderneming gesteel is.