Motor rubriek – Ford ranger 3.2 Diesel

Op verskeie terreine het die Ford Ranger Diesel hom al bewys. Die jongste toevoeging tot die reeks, is die bakkie met die outomatiese ratkas.

Na verneem word het die bakkie tydens toetse wat in sand uitgevoer is, dit baie goed van sy taak gekwyt. Die 6-gang outomatiese ratkas maak dit moontlik om egalig weg te trek en die toere kan maklik hoog gehou word. Die oorskakeling van die ratkas na ‘n hoër rat is seepglad en wanneer daar teruggeskakel word na ‘n laer rat, vind die skakeling ook seepglad plaas en die deeltydse 4×4 is nog ‘n pluspunt. Die 147 kW van die enjin is genoeg om vinnig spoed op te bou en die momentum te kan behou. Dit is slegs nodig om die banddruk aan te pas vir die sand-oppervlakte ritte.

Sy grootste mededinger in hierdie klas is die Volkswagen Amarok. Wat die vergelyking moeilik maak is die feit dat daar min te kies is tussen die twee en persoonlike keuse is dus van belang.

‘n Pluspunt vir die Ranger is dat daar gebruik gemaak word van parkeer sensors aan die agterkant en dit is ‘n groot hulpmiddel wanneer daar geparkeer moet word, in aggenome die grootte van die bakkie. ‘n Tweede stel “oë” is die ingeboude kamera wat aangewend word wanneer daar in die veld gery of parkeer word.

Die binneruim se afwerking is van hoogstaande gehalte, gemaklik en modern. Die instrumentpaneel is reg voor die bestuurder en duidelik leesbaar.

Die tegniese spesifikasies is indrukwekkend. Die 3198 kub. sentimeter enjin doen sy werk met gemak. 147kW is beskikbaar teen 3000 o.p.m. en die wringkrag is 470Nm teen 1500 o.p.m.

Dubbel mikvere word voor gebruik en agter word daar gebruik gemaak van bladvere. Dit maak dat die rit effe stamperig is maar dit is nie onaangenaam nie. Die grondvryhoogte is 237 mm, die naderingshoek is 25,5 grade en die vertrekhoek is 21,8 grade.

Indien u ‘n bakkie moet aanskaf kan u gerus u naaste Ford handelaar besoek en ‘n Ford Ranger Diesel neem vir ‘n toetsrit.