Ma en seun saam in swemkampioenskap

Om as ’n 60-jarige deel te neem aan die Suid-Afrikaanse Meesterswemkampioenskap in Johannesburg, is reeds ’n prestasie wat nie elkeen bereik wat dit in die water waag nie.

Maar as die 60-jarige deelnemer se ma van 90 jaar ook deelneem, dan is dit ’n swemprestasie wat nie maklik geëwenaar word nie.

Kascha Kloos (90) van Kaapstad was die oudste deelnemer in vanjaar se kompetisie, nadat sy deur haar seun aangemoedig is om mee te doen in die groot byeenkoms.

Sy sê haar seun het haar oortuig dat sy besonder vinnig swem vir haar ouderdom, en vertel dat sy eers op ’n ouderdom van 83 deelgeneem het aan ’n eerste kompetisie.

Kascha wat in Duitsland gebore is en die afgelope 62 jaar in Suid-Afrika woon gebruik nie enige medikasie nie en voel nog gesond en fiks vir haar jare.