Lourierboom / Bay tree (Bayleaves)

Die Lourierboom is een van ons bekende bome in Suid Afrika en is baie gewild by kokke want die blare is baie geurig en word in allerhande disse gebruik. Hierdie boom is in die familie Lauraceae en die orde is Laurales. Die avokadopeerboom behoort ook aan hierdie familie.

Wêreldwyd is daar 2000 spesies wat tot die Lauraceae behoort waarvan 10 in Suid Afrika voorkom en 9 daarvan is bome. Verskeie van hierdie bome wat tot die Lauraceae familie behoort is van ekonomiese belang, soos die Avokadopeer, Cinnamom zeylanicum (wat kaneel lewer) en dan die Lourierboom .Dit is ‘n baie waardevolle boom om teen heinings te plant omdat hy ‘n baie mooi regop vorm het. Die blare an hierdie boom is ovaal of spiesvormig en ‘n duidelike aar in die middel en dit groei dig aan die takke. Die klein bessies verskyn so tussen die blare en vertoon mooi.

Die lourierboompies groei maklik en hulle het nie spesiale aandag nodig nie. ‘n Plekkie in die son en gereelde water is genoeg. Hulle vertoon baie pragtig in potte en ons kan hulle in allerhande vorms snoei, of laat hom net aan die natuur oor om te groei en met tyd kan hy ‘n redelike groot boom raak. Die stam van hierdie lourierboompies in potte kan nogal in snaakse vorms groei en vertoon baie mooi en lyk so kunstig. In die Mediterreense streke groei die lourierboom wild en hulle is nie gevoelig vir koue nie.

Lourierblare en bessies is gewild en word ook as medisyne gebruik. Maak ‘n tee van die blare en drink dit warm voor slaaptyd en u sal heerlik slaap en dit is ook goed teen verkoue, slegte spysvertering, moegheid en ook rumatiek. Dit is seker daarom dat dit in voedsel gebruik word. Die olie van die lourierbessies word gebruik in lyfrome, en ook in antiseptiese salwe. Die room is ook baie goed vir rumatiese pyn. Smeer aan en geniet die aroma en die verligting van pyn.

Miere, miet en kakkerlakke hou nie van lourierblare nie, daarom kan u gerus ‘n paar blaartjies agter in die koskas plaas en hou ‘n blaartjie of twee waar rys en meel gestoor word. Dit sal die insekte weghou van die kruideniersware en u kaste sal ook lekker ruik.

Geniet u tuin in Maart tot volgende keer