Kovsies wil nie eis betaal nie

‘n Dagvaarding sal na verwagting binne die volgende paar weke beteken word op die Universiteit van die Oranje Vrystaat en die instelling se rektor, Jonathan Jansen, rakende ‘n skadevergoedingseis van R1 miljoen.

Daar is tot 20 Maart tyd gegun dat ‘n skadevergoedingeis van R500 000 elk aan twee studente, Cobus Muller en Charl Blom, betaal word. Die instelling het egter in ‘n skrywe aan die burgerregte organsasie wat die twee verteenwoordig, aangedui dat hy aanspreeklikheid ontken en nie van plan is om te betaal nie.

Die studente is verlede jaar te midde van ‘n sogenaamde rassisme-herrie onder meer van ‘n  poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en crimen injuria, op ‘n mede-student, Damane Gwebu, aangekla en uit die universiteit geskors. Hulle is later deur die hof en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie onskuldig bevind.

Hulle is van die kampus uitgesluit sonder dat die nodig prosedure gevolg is of ‘n verhoor en is ook nooit die geleentheid gegun om hulle kant van die saak te stel nie. Hulle is op daardie tydstip in die openbaar as misdadigers uitgekryt. Hulle kon nie met hulle nagraadse studies voortgaan of hulle gradetoekenningsgeleentheid bywoon nie.

Foto – Jonathan Jansen