Johannesburg skryf miljoene Rand af

Motoriste wat verkeersboetes gekry het in Johannesburg gedurende die tydperk tussen Augustus 2010 en 21 Desember 2012, kan gerus ontspan, want die munisipaliteit se verkeersafdeling het besluit om al daardie boetes af te skryf wat nie betaal is nie.

Al die verkeersboetes wat Johannesburgse Metropolisie (JMPD) uitgereik het gedurende die tydperk, hoef nie betaal te word nie, en word die publiek om verskoning gevra omdat die Aarto-wet bepaal dat boete-kennisgewings nie per gewone pos versend mag word nie.

Die verkeersdepartement het gedurende die tyd nie die kennisgewings per geregistreerde pos aan oortreders gestuur nie, wat dus ’n onwettige handeling was.

In ’n ondersoek wat later deur adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer (OB) uitgevoer is, het sy bevind dat die Metro onbehoorlik opgetree het met die versending van boetekaartjies.

Die verskoning wat aangevoer is deur die verkeersdepartement, is dat hulle nie oor die nodige fondse beskik het om die boetes per geregistreerde pos uit te stuur nie.

Na bewering sou die posgeld meer as R10 miljoen beloop het.

Sedert 22 Desember word alle boetekaartjies per geregistreerde pos versend, en kos die verkeersdepartement sowat R10 miljoen elke maand.

Dit is nie bekend hoeveel die departement elke maand ontvang met boetes wat betaal word nie.