Hou Eskom uit sy eie ondersoek

Die onafhanklikheid van die ondersoek na Eskom word bevraagteken nadat dit geblyk het dat die voorsitter van die entiteit, Zola Tsotsi, ‘n leidende rol in die ondersoek sal speel.

Dit volg nadat Eskom net enkele ure gelede nog ontken het dat Tsotsi homself aan die hoof van ‘n subkomitee geplaas het. Die komitee sal die volmag hê om die ondersoekers aan te stel. Volgens bepaalde mediaberigte sal Tsotsi en die komitee net ‘n sogenaamde “oorsigrol” hê.

Die integriteit van die hele optrede kom in die gedrang aldus die opposisie en vrae daaroor is aan die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, gestel.

Vier van Eskom se topamptenare waaronder die uitvoerende hoof, Tshediso Matona, is verlede week vir drie maande geskors sodat die ware toedrag van sake by die instelling bekyk kan word.

Eskom behoort op geen wyse betrokke te wees by die ondersoek na sy probleme nie, sê die VF Plus.

Die party wil die openbare beskermer nader om tussenbeide te tree om die ondersoek self te doen.

Foto – Zola Tsotsi