Gewapende aanval klipgooi van presidensiële gastehuis

Sondagnag het gewapende aanvallers ´n inwoner oorval, slegs ´n klipgooi van die presidensiële gastehuis in Kerkstraat, Pretoria.

By sy tuiskoms is meneer Cassels buite sy huis oorval deur etlike aanvallers.  Hulle het geëis dat die huis oopsluit.  Omdat sy vrou alleen en niksvermoedend tuis was, het hy geweier.

In ´n verbete handgeveg het hy daarin geslaag om die booswigte teë te hou.  Toe hulle hom met ´n vuurwapen dreig het hy sy teenstand volgehou en is in die been geskiet.

Bure het daarop alarm gemaak en die nooddienste ontbied, wat ook die eerste gewaarwording vir sy vrou was dat iets skort.

Cassels is in ´n plaaslike hospitaal opgeneem waar hy Maandag geopereer is om ´n versplinterde femur te herstel.

Danksy sy dapper optrede, is sy vrou ongedeerd, maar wel geskok weens die barbaarse aanval, veral in wat hulle gehoop het ´n veiliger omgewing sou wees.