Eskom-bestuur vir eers uitgeskop

Die skorsing van Eskom se uitvoerende hoof, Tshediso Matona, en drie topamptenare hangende ‘n ondersoek lyk asof hulle uit die weg gekry moet word omdat hulle teenwoordigheid iets sou kon verdoesel.

Matona, die direkteur van finansies, Tsholofelo Molefe, en die groep uitvoerde hoof vir kapitaal, Dan Marokane asook die uitvoerende hoof vir tegnologie, Mashela Koko, is vir drie maande geskors om die ondersoek af te handel.

Ondersoek gaan glo ingestel word na die swak vertoning van die opwekkingseenhede, die vertragings om werk aan nuwe aanlegte af te handel, die hoë koste van primêre energie en kontantvloei probleme.

‘n Tussentydse raad sal onder leiding van Zethembe Khoza, Eskom bestuur.

Eskom val sedert laat verlede jaar direk onder ‘n sogenaamde oorlogskamer onder beheer van adjunk president Cyril Ramaphosa terwyl die tesourie ‘n wakende ogie oor die wankelende finansies van die elektrisiteitsverskaffer moet hou.

Die redes vir  die probleme by Eskom word deur kenners teruggevoer na beleidsbesluite wat sedert 1994 geneem is en die feit dat onderinvestering sedert ongeveer 2001 begin het.

Die besluit om ‘n ondersoek te loods kan dalk ook deel vorm van ingewikkelde politieke onderstrominge in veral die vakbondgeledere van Cosatu.

Waarnemers merk op dat vakbonde wat geaffilieer is met Cosatu toenemend ongelukkig geraak het met Matona se leierskap. Hy het in September verlede jaar die leisels by Eskom oorgeneem.

Die vakbond, die National Union of Mineworkers (NUM), meen die skorsings is ‘n aanduiding dat die bestuur ineengestort het.