Derde terroris vir Tunis-aanval gesoek

Daar word na ‘n derde persoon gesoek in verband met die aanval op die Bardo-museum in Tunis, het die Tunisiese president Beji Caid Essebsi gesê.

Daar is definitief drie terroriste en hierdie een is voortvlugtig, maar hy sal volgens die staatshoof nie ver kom nie.

Vroeër is twee verdagtes, Yassine al-Abidi en Saber Khachnaou geïdentifiseer.

Sowat 20 buitelandse toeriste is afgemaai en talle gewond tydens die aanval waarvoor die Islamitiese Staat (IS) intussen verantwoordelikheid aanvaar het.

‘n Suid-Afrikaanse vrou is baie ernstig tydens die terroriste aanval gewond toe die terroriste losgebrand het op ‘n klomp toeriste wat van ‘n toerbus by die museum direk langs die parlementsgebou afgeklim het.

Sy was een van 78 Suid-Afrikaners aan boord van die skip, die MSC Splendida, wat met altesaam 3 714 toeriste in die La Goulette-hawe geanker was.

Die Suid-Afrikaners het ontkom omdat die toegangsgeld van 20 euro (R262) vir hulle te duur was en hulle verkies het om liewers die mark in die hoofstad te besoek.

Videomateriaal wat deur die Tunisiese regering vrygestel is, toon hoe van die aanvallers met aanvalsgewere en sakke deur die museum stap tydens die aanval.

Nagenoeg 20 verdagtes, waarvan ten minste tien van hulle direk betrek word by die aanval is sedertdien deur die Tunisiese regering in hegtenis geneem.

Yassine al-Abidi en sy mede-terroriste is voor die aanval in ‘n jihadiste-kamp in Libië opgelei in ‘n deel van die land wat deur die Islamitiese Staat (IS) beheer word, aldus die Tunisiese regering.

Foto – Beji Caid Essebsi