Boere glo positief oor grondgryp

Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Gugile Nkwinti, het verlede week verskeie “voorbeelde” uitgewys van blanke boere se positiewe reaksie op die nuwe Grondgryp 50-50 plan van die regering.

Hy het gereageer op vrae in die portefeuljekomitee se vergadering oor die onderwerp, en gesê hy is opgewonde oor die reaksie van boere oor die omstrede grondgryp-program waarvolgens boere die helfte van hulle grond moet afstaan aan hulle plaaswerkers.

Hy sê drie boerderye, waarvan die Du Toit-boerdery van Ceres een is, het glo gesê hulle sal vennootskap-ooreenkomste aangaan met die werkers, maar vra dat die staat die dam se kapasiteit moet verhoog deur die wal te versterk en te vergroot.

Dan vertel die minister van ’n volgende boer wat 90 hektaar aanbied, en ’n derde een wat vertel daar word op meer as ’n 1000 hektaar aanplantings gedoen.

Hy sê dieselfde ding is besig om in die Vrystaat te gebeur, en in Stellenbosch het verskeie boere hulle samewerking gegee.

Die aankondiging kom nadat Agbiz, die landbousakekamer, volgens Nkwinti ook aangedui het dat hulle in die volgende 15 jaar, ’n bedrag van R15 miljard sal bewillig om die grondgryp-program te verhaas, en die kunsmismaatskappy Omnia het glo sowat R44 miljoen bewillig.

Op ’n vraag het die minister gesê die presiese punt van die 50/50-beleidsraamwerk is ’n proses waar erkenning gegee sal word aan die plaaswerkers se bydrae oor geslagte aan boere.

Foto – Gugile Nkwinti