Boere Afrikaner Lente dreun al nader

Die  vuurdoop omtrent die rol van die sosiale media in die Suid-Afrikaanse politiek het aangebreek met die veldtog van die Facebook-groep, ‘n “Miljoen Stemme vir Steve”.

Sake lyk sommer heel belowend met oor die 90 000 stemme binne 48-uur nadat die inisiatief begin is om ‘n miljoen stemme vir die sanger en aktivis, Steve Hofmeyr uit te bring.

Die stemme sal aandui of ‘n “Boere Afrikaner Lente op ons” is soos hy dit stel.

Maar handtekeningveldtogte met behulp van lyste vir diegene wat nie toegang tot internet het nie en ‘n gratis sms aan: STEVE jou NAAM en VAN na 33167 sal help met die opbou tot die teikengetal.

Die aksie volg nadat Hofmeyr aan die begin van 2015 tydens ‘n radio-onderhoud aangedui het dat hy die politiek te betree indien hy ‘n miljoen stemme van sy mense sou kry.

Volgens Hofmeyr geniet hy nie mediasteun of die ondersteuning van feesrade of dorpsrade nie, maar sosiale media is ‘n ander “dier” om mee rekening te hou.

Die pad waarop hy nou is, kom seker nie van gister en eergister nie, maar wat uitstaan is dat nagenoeg 40,000 mense verlede jaar opgestaan het om uit volle bors saam met Hofmeyr “Die Stem” by die Innibos-fees op Nelspruit te sing. Op sy CD, Toeka 3, word “Die Stem” met kitaarbegeleiding gesing en teen die einde van die bepaalde strofe sing die Innibos-gehoor saam.

Sedert Innibos het ‘n woordoorlog op Twitter, ‘n hofsaak, feesboikotte en die onttrekking van borgskappe skadu’s op die pad gegooi. Maar sy CD-verkope, ‘n rolprent wat binnekort vrygestel word en die publiek se lojaliteit vir sy voortgesette optrede by die musiekfees Afrikaans is Groot dra Hofmeyr voort.

Net die tyd sal leer hoe ‘n “Boere Afrikaner Lente” kan lyk.