Alfileria Europese onkruid gras

In Suid Afrika is hierdie plant sekerlik onbekend. Alfileria is ‘n Europese onkruid wat in die Suidweste van Amerika en Meksiko groei. Dit is ‘n jaarplant en word onder grassoorte geklassifiseer. Alfileria groei redelik plat op die grond en groei tussen die veldgras in daardie gebiede.

Alfileria is ‘n harige, taai jaarplant. Hierdie plante se stingels waaraan die kantagtige blare weerskante uitspruit, is groen/pers. Die blare lyk na varingblare en lyk ook soos kant en groei regop en spruit uit vanaf die wortel net bokant die grond. Dit is smal en ook harig. Aan die bopunt van die kantagtige blare is ‘n pers/maroon kolletjie duidelik sigbaar. Die stingels van hierdie plant dra helder pienk blomme met 6 blaarlobbe wat ver van mekaar op ‘n dun lang groen stingeltjie sit. Hierdie blomme laat ons aan kosmosblomme dink, dit het dieselfde vorm maar is nie baie dig teen mekaar nie.

Die Spanjaarde het baie van hierdie plante gehou, want hulle het gemeen dit is baie voedsaam vir hulle diere. Hulle het geglo dit het meer voedingswaarde as enige ander aangeplante voer vir perde en beeste.

Na die blomtyd vorm daar sade wat langvormig is en lyk soos ‘n reier se bek wat oopskiet sodra dit ryp is en so versprei hierdie onkruid gras. Die saad groei maklik. Die plante groei in vogtige gebiede veral by die kus. .

Volgens sekere bronne is die pienk blomme baie gesog onder heuningbye. Die larwes van sekere skoenlappers eet hierdie plante. Daar is ook mense wat die wortels van hierdie plant fyn maak en ‘n kompres daarvan maak om wonde en veluitslag mee te behandel.  

Tuiniers, ons sal seker nie hierdie plant maklik te sien kry nie. Geniet u onkruidvrye tuin.