Aktes van eiendom in veld gevind

Dokumente wat as oorspronklike aktes van eiendomme in Pretoria beskou word, is gedurende die afgelope dae in die veld, buite Pretoria gevind.

Van die aktes wat so oud is as 1896 is gevind en waarnemers meen dit kan ’n poging wees om van sekere bewyse oor eiendomsreg in Pretoria ontslae te raak in die lig van die meer onlangse grondeis teen ’n groot deel van sowat 34,000 hektaar van die stad.

Van die aktes is beskadig, en dit wil voorkom asof dit uit ’n saamgevoegde bundel geskeur is en uit die staat se aktekantoor verwyder is.

Die dokumente is tussen Mamelodi en Roodeplaatdam gevind op die plaas Franspoort.

Ondersoek word nou gedoen om vas te stel of die dokumente wel die oorspronklikes is, aangesien dit nie maklik bepaal kan word nie.

Tobias Coetzee, ’n argeoloog, sê dit is moeilik om sulke dokumente te vervals, alhoewel dit moontlik is.

Die plaas Franspoort vorm deel van die reuse grondgryp eis wat ondermeer 500 erwe, talle sakeondernemings, verskeie plase, kerke en skole insluit.

Victor Lekhuleni (48), van die Bakgatla ba Lekhuleni-stam, het dié eis ingedien en sê sy stam is tussen die laat 1950’s en die vroeë 1960’s deur die polisie van Franspoort verwyder.

Foto – Victor Lekhuleni