VIR DIE DAMES – Basterknoffel / Nothoscordum gracile

Baterknoffel behoort tot die familie Alliaceae wat bekende groente soos uie, grasuie, salotte en gewone knoffel insluit. Dit is egter nie knoffel nie en dit smaak en ruik ook glad nie na knoffel nie. Volgens bronne het dit ‘n ietwat soet, leliereuk. Basterknoffel is ‘n bolplant en dit is ‘n onkruid in ons tuine. Hulle versprei vreeslik maklik en indien u dit nie baie vinnig nadat u dit in die tuin gevind het uitroei nie, sal dit maklik en vinnig versprei. Hulle is baie moeilik om uitgeroei te kry omdat hulle sommer lekker aankruip in die grond, veral lekker losserige grond.

Hierdie plantjies vertoon mooi wanneer hulle oortrek is met wit tot ligpienk fyn blometjies wat ons aan tjienkerientjies herinner. Die blommetjies kom voor aan die bo-punt van lang skraal groen stingels wat tot 30 cm tussen die dun lang wasagtige blare van die plant groei. Die plant vorm sommer baie saad in een peultjie.  Basterknoffel versprei met saad wat deur middel van water versprei (wanneer ons so heerlik natspuit). Die saad ontkiem vinnig en maklik en maak sommer vinnig nuwe kolonies. Die bolle sit diep ondeer die grond en dit maak verwydering moeilik. Hierdie plante het ‘n sterk wortelstelsel met dik wortels wat dig aan die bol onder die grond voorkom. Dit help ook nie om net die blare bokant die grond af te breek nie, want dit groei dan nog mooier binne ‘n paar weke. Om hulle te probeer uitspit is ook nogal moeilik want waar jy hulle stukkend spit, groei en versprei dit sommer dadelik weer. Die beste manier om dit uit te haal en ontslae van te raak is om die hele stukkie grond waar dit voorkom goed nat te maak, uit te spit en dan daardie grond uit te grawe en heeltemal te verwyder.

 

Omdat die blare van basterknoffel wasagtig is, is dit baie moeilik om onkruiddoders te spuit. Dit hou net eenvoudig nie lank genoeg op die blare om dit te vernietig nie.

Die plante kom oorspronklik van Suid en Noord Amerika en ook uit Brittanje. Basterknoffel is ‘n geharde plant en groei in enige tipe grond en gaan ook nie dormant of heeltemal dood in ysige koue nie.

Daar is nou sommer ‘n klomp hardnekkige onkruide in ons tuine te vind. Die mees algemeenste is die basterknoffel, rooi meelkruid, gladde kruipmelkkruid, tuinranksuring, rooi varkkos, varkoortjies en gansogies. Kyk maar uit, tuiniers en ons moet maar goed natspuit en uitroei. Van hierdie onkruid het baie lang penwortels en dis nogal baie moeite om hulle uit te grawe. Sommige van hierdie onkruide vertoon alte oulik, maar pasop, hulle neem die tuin sommer maklik in.

 

Geniet u tuin