Skaars Kaapse Vlakte-erika word hervestig

Die fynbosdeskundiges het vir byna ‘n eeu gedink die Kaapse Vlakte-erika het uitgesterf. Daar word tans ‘n reddingsboei uitgegooi na hierdie Erika spesie wat een van Suid-Afrika se skaarsste Erika’s is. Hierdie kenmerkende plant is byna 31 jaar gelede herontdek en daar het die afgelope maand weer vir die eerste keer saailinge in die Rondevlei Natuurreservaat in Kaapstad opgekom. Hierdie Erika het verdwyn weens habitatverlies want die vleilande in die Rondevlei gebied is gedreineer en indringerplante het inheemse plantegroei verdring.

Volgens Dalton Gibbs van die Rondevlei Natuurreservaat kan jy nie net ‘n plant in die veld terugplant en sê dit is nie meer uitgesterf nie. ‘n Plant moet vir drie generasies naturlik groei voor dit as slegs ‘bedreig’ aangedui sal word. Sedert 1950 is aanvaar dat hierdie plant reeds in die natuur uitgesterf het. Volgens Dalton Gibbs het hierdie plant uitgesterf omdat mense graag die pienk blomme vir die Kaapse blommemark gepluk het. In 1984 is hierdie Erika plant in die Protea Park in Pretoria gevind. ‘n Professor het ‘n artikel wat Gibbs geskryf het gelees en hom toe laat weet dat hy die plant ‘n paar jaar vantevore in Wene in Oostenryk gesien het. Daar is navorsing gedoen en vasgestel dat steggies van hierdie plant 200 jaar gelede uit Suid Afrika na die Belvedere Paleis in Wene geneem is. Die plant het twee wêreldoorloë daar oorleef en merkwaardig is die plant nou weer in Suid Afrika te vinde. Sedertdien is daar nog in verskeie wêrelddele van hierdie Kaapse Vlakte-erika plante gevind.

Die Kaapse Vlakte-erika word op some van vleilandgebiede weer hervestig. Soos met baie fynbos spesies, moet die Erica verticillata gebrand word om saad te skiet. Die plante by Rondevlei is in 2013 gebrand van hierdie sade wat geskiet het, het nou 21 saailinge gegroei. Daar sal egter oor 10 jaar eers weer van hierdie plante gebrand kan word en dan sal ons eers oor 20 jaar kan sê dat die Kaapse Vlakte-erika nie meer uitgesterf is nie.

Dit is ‘n plant of kleinerige boompie wat maar gerus in die Kaapse tuine geplant kan word, want hy blom oorvloedige trossies pienk blomme en vertoon pragtig. Dit word ook bestuif deur pylstertmotte en klein rooibandsuikerbekkies. Hierdie plant sal in halfskadu of volson in die tuin in goed dreinerende grond aard. Hulle sal ook in ander dele van ons land goed groei.

Die Kaapse fynbos tuiniers kan gerus probeer om van die plante in hul tuine te plant. Ons moet probeer om soveel as moontlik van hulle te hervestig, want daar is alreeds 80 endemiese fynbosspesies deur Werk vir Vleilande hervestig en ons moenie toelaat dat hierdie pragtige plante geheel en al uitsterf nie.