Nardus (Nardostachys grandiflora of Nardostachys jatamansl)

Hierdie Nardus word ook genoem muskus. Dit is ‘n blomplant van die Valeriaan-familie en groei in die Himalaja gebergtes van Sjina, Indië en Nepal. Nardus kom ook in die Alpynse graslande van die Himalajastate voor. Dit is in die familie Valerianaceae en die rang Dipsacales en die genus Nardostachys.

 

Nardus aard veral op droë, beskermde plekke. Die Nardus plant groei tot omtrent 1 meter hoog en dra pienk, klokvormige blomme wat soos trossie aan die bopunt van die blomstingels voorkom. Dit kom ook in die velde van daardie gebiede voor, maar staar uitwissing in die gesig. Nardus is gelys as ‘n beskermde plant en daar is beperkings op die handel met die wortels of stukkies daarvan geplaas. Dit is nog wettig om van die wortels van die plant, Nardusolie, tablette en poeiers te maak.

 

Nardusolie was bekend gewees in die antieke tye en was deel van die Ayurvediese genesing en kruietradisies van Indië. In die Bybel lees ons mos ook van die gebruike van Nardusolie vir salwing. Ons lees ook in die Bybel dat Maria, suster van Lasarus ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf gebruik het om Jesus te salf. Ook die sondares, wat met haar hare Jesus se voete afgedroog het, het  nardusolie gebruik om Sy voete te salf. ‘n Fles Nardusolie was baie duur in daardie tye. Nardus was saam met ander geneeskundige plante en speserye soos kaneel en cassia op die tradisionele handelsroetes uit Indië ingevoer na die Heilige Land.

Die waardevolste Nardusolie was gebruik vir salfolie slegs vir priesters, konings en hooggeplaaste ingewydes in die vroeë tye. Nardusolie was bekom as ‘n luuksheid in antieke Egipte, die Ooste en Rome waar dit die hoofbestanddeel in parfuum was. Daar is ‘n paar spesies van Nardus onder andere laventel stoechas en tuberous valerian wat in die moderne terme as “Nardostachys jatamansl’, bekend staan.

Indiese Nardus is ‘n bestanddeel wat gebruik word in souse wat by vleisgeregte bedien word. Die aar van die plant was daarvoor gebruik en die Romeine het ook die blare gebruik en dit is ook vir geurstowwe gebruik wat by wyn gevoeg was. Die eteriese olie word verkry deur stoomdistilasie en is ‘n basis geur met ‘n aardse reuk. Die olies word ook deesdae gebruik vir veluitslae en is ‘n antifungaal en help vir enige tipe velallergie. Dit word ook gebruik om seer gewrigte mee te behandel wat die pyn dan verlig.

Indien u van hierdie Nardusolie of produkte met dit as bestanddeel kan kry, smeer gerus die seer gewrigte. Geniet u tuin tot volgende keer.