Ilang-Ilang of ylang-ylang klein rankerige plant

Ylang-ylang word ook uitgespreek as ilang-ilang en die botaniese naam vir hierdie klein rankerige boompie  is Cananga odorata.

Die naam ylang-ylang kom van die woord ‘ilang’ af, wat ‘wildernes’ of ‘raar’ beteken. Dit is ‘n klein rankagtige boompie of struik wat in die tropiese gebiede soos in Indonesië en Sjina en die plant se oorsprong is van die Fillipyne. Dit is ‘n onbekende plant in Suid Afrika. Dit is in die Annonaceae familie en verwant aan die Magnoliales. Dit dra dan ook pragtige liggeel tot heldergeel blomme.

Ilang-ilang is baie waardevol vir die maak van aromatiese olies van die blomme. Hierdie olies word vir aromaterapie gebruik. Die olies van die blomme word verkry deur stoomdistillasie en daar word sommer baie blomme benodig hiervoor. Daar word geglo dat die oliebehandeling met  velprobleme help. Die olies word natuurlik ook in Oriëntale parfuums gebruik en dit meng goed met blom-, vrugte- en houtreuke. In Indonesië sprei hulle hierdie blomme op hul matrasse om lekker te ruik en die Fillipyne maak ook van die blomme kransies om om die nek te hang deur die vrouens wanneer hulle met hul godsdienstige rituele besig is. Ilang-ilang is ‘n algemene geursel wat hulle in Madagaskar in roomys gebruik.

Dit is ‘n houtagtige klimplant of struik en is immergroen. Ilang-ilang groei vinnig en dit kan meer as 5 meter per jaar groei en word omtrent 12 meter. Dit sal in volson of halfskadu aard en verkies grond met ‘n goeie suurgehalte. Die plant se blare is sag en blink en ovaalvormig en is 13 – 20 cm lank. Die blomme van die plant hang na onder met ‘n lang steeltjie aan die takke en het ses smal geel blare en vertoon soos ‘n seester. Dit ruik heerlike soet. Die reuk van die blomme ruik na vla met ‘n bietjie jasmyn. Daar vorm trossies met swart sade na die blomtyd en hierdie sade lok voëls en veral duiwe na die tuin.

Tuiniers, daar is heelwat in die tuin te doen. Geniet u tuin tot volgende keer.