Vooruitskouing vir 2015

Terwyl ekonome en liberale media poog om Suid-Afrika te troos dat 2015 ’n beter jaar gaan wees as 2014, is hulle aanslag doelbewus en word die verlaagde olieprys voorgehou saam met ’n klompie ander eksterne faktore wat maar twyfelagtige redes is.

Dit is die mening van ’n woordvoerder van Oranje Sake Instituut na aanleiding van die pogings wat deurgevoer word om mense aan te moedig om te glo dat 2015 ’n “goeie jaar” gaan wees.

Die feite spreek egter ’n ander verhaal.

Die regering het nog geen konkrete poging aangewend om die Zuma-kader vas te vat nie, en dit voorspel niks goed nie, terwyl sosialistiese politici besig is om die land al verder na kommunisme te druk.

Hy sê die swak Rand, en die swak bestuur van munisipaliteite gaan skokke uitstuur na die gewone man terwyl die onvermoë van Eskom al groter word, en beurtkrag ’n al hoe gevaarliker monster is wat wag om te byt na nywerheid- en handelsektore.

Te midde van die onkunde in die Staatsdiens wat deur werknemers openbaar word, sal korrupsie nie wyk solank as wat ons met ’n polisie sit wat self nie bo verdenking is nie.

Hy het ook gewys op die verslegtende toestande by staatshospitale en klinieke, wat die gemiddelde landsburger nou huiwerig maak om opgeneem te word omdat te veel mense onnodig sterf weens nalatigheid en onkunde.

Die kroon op alles is die misdaad van moord en doodslag, dwelmhandel, kapings en verkragtings wat elke moontlike belegger laat huiwer en terugdeins.

Met dit alles in ag geneem, sal ons moet aanvaar dat Suid-Afrika in 2015 nog verder agteruit gaan wat ook verklaar waarom professionele mense die land verlaat om elders ’n heenkome te vind, het hy gesê.