Veiligheidswag deur veghonde gedood

Drie Amerikaanse veghonde wat uit hulle erf ontsnap het, het ‘n veiligheidswag van die Laerskool Oosterkruin aangeval en doodgebyt. 

Abie Masia (47) het diens gedoen by die skool se rugbyveld. 

’n Veiligheidswag van die Laerskool Oosterkruin in Germiston is dood toe drie Amerikaanse veghonde hom buite die skool verskeur het. 

Die eienaar van die honde, Carell Brussow, was ten tyde van die gebeure nie by die huis nie en kan nie verklaar hoe dit gebeur het nie. Volgens hom was een van die hek se ysters gebuig. Hy kan dit nie verstaan nie, want ‘n hond sou dit nie doen nie. 

Ofskoon die een hond Roxy, wat skynbaar die aanval gelei het, vantevore uitgekom het, het sy nog nooit iemand gebyt nie, sê Brussow. Boonop slaap die honde in die huis. 

Vir die gesin is die honde deel van die familie. Roxy is deur ‘n polisieman doodgeskiet en die ander twee, Satan en Psycho is deur die DBV weggeneem.

Die gesin moet nog met die DBV vergader.  

Daar sal ook ‘n vergadering met Masia se weduwee plaasvind. Geen beslissing oor ‘n moontlike geregtelike vervolging is al geneem nie.