Veerboot ramp eis talle lewens

Die Griekse veerboot wat onderweg was vanaf Patras in Griekeland na die Ancona in Italie, het tien passasiers aan die dood afgestaan toe ’n brand onverwags op die boot ontstaan het.

Sowat 420 passasiers kon gered word van ’n gewisse vlammedood, maar tien passasiers kon nie gered word nie weens die hitte wat veroorsaak is op die onderste dek van die boot.

Die oorledenes se identiteit en die omstandighede van hul dood is nog nie vasgestel nie en sal mettertyd bekend gemaak word.

Chaos het op die boot ontstaan toe passasiers paniekbevange probeer het om in gietende reën weg te vlug van die vlamme op die boot.

Een passasier sê die brandalarm het eers afgegaan toe die die meeste passasiers hul kajuite verlaat het weens die erge rook.

Helikopters het spoedig opgedaag, en passasiers kon nie vinnig genoeg inklim om van die brandende boot weg te kom nie.

Een passasier het later vertel dat die reddingspoging ongeorganiseerd was en die boot was slegs met drie reddingsbootjies toegerus.

Passasiers moes ure lank in gietende reën wag dat die helikopters hulle oppik.

Hy sê 150 mense is met die bootjies na veiligheid geneem, maar die meganisme wat elektronies werk om passasiers in te laai het onklaar geraak wat die reddingspoging gekelder het en helikopters se hulp ingeroep moes word.

Die helikopters het ure lank heen en weer gevlieg om al die passasiers na veiligheid te neem.