Vakansiegangers verlaat Jeffreysbaai

Kragonderbrekings, riool storting in die swem areas, strande wat gesluit is vir verskeie redes, en die reënweer is alles faktore wat vakansiegangers genoop het om die eens gewilde vakansieoord te verlaat.

Talle vakansiegangers wat jaar na jaar hulle vakansies in die kusdorp deurbring, het vanjaar gesê genoeg is genoeg, en die reis aangepak na beter oorde.

Die kameel se rug het gebreek toe die hoof kraglyn tussen Humansdorp en Jeffreysbaai onklaar geraak het gedurende die naweek.

Die munisipaliteit het onderneem om die fout binne enkele ure te herstel, maar byna twee dae later was die kragtoevoer steeds nie herstel nie.

Die kragonderbreking het die rioolstelsel tot groter wanfunksionering gelei en storting in die tradisionele swem gebiede veroorsaak.

Dit het mense genoop om hulle goedjies te pak om elders te gaan vakansie hou.