Soektog na vermiste vliegtuig suksesvol

Terwyl die Adjunk-president van Indonesië, Jusuf Kalla, mense begin voorberei op die ergste, is ’n reuse soektog uitgevoer op soek na die vermiste vliegtuig van AirAsia wat met 162 mense aan boord weggeraak het.

Verskeie lande het hulp aangebied en vliegtuie sowel as bote het die weg gevolg na die gebied waar die vliegtuig moontlik neergestort het.

’n Oliekol in die see is waargeneem en ondersoekers sê olie-monsters is geneem en ontleed om te bepaal of dit afkomstig is van die vermiste vliegtuig.

Die tuig het Sondag vermis geraak nadat die vlieënier goedkeuring gevra het om af te wyk van die geskeduleerde roete ten einde te vermy om ’n geweldige storm wat gewoed het, te trotseer.

Blykbaar is die versoek nie toegestaan om van roete te verander nie weens die swaar lugverkeer in die gebied, en die vermoede bestaan dat die vlieënier die roete op eie risiko verander het weens die stormagtige weerstoestande.

AirAsia het later gesê die vliegtuig het om 02:24 SA tyd van die beheertoring se monitor verdwyn wat die vermoede laat ontstaan het dat iets verkeerd gegaan het.

Lesings wat geneem is dui daarop dat die vliegtuig op daardie stadium teen ’n stadige spoed van sowat 650 km per uur gevlieg het op ’n hoogte van net meer as 11,000 meter.

Alhoewel geen misdaad vermoed word nie, het die regering verklaar dat elke passasier se besonderhede goed nagevors gaan word om seker te maak daar was nie gemene spel nie.

Sowat 15 skepe en meer as 30 vliegtuie  het die gebied tussen Belitung-eiland en Pontianak in Indonesië gefynkam, in die hoop om op die wrak af te kom.

Intussen het een van die vliegtuie waargeneem dat daar liggame in die see rond dryf. Die uur van waarheid het aangebreek en die ganse wêreld het reeds hulle meelewing uitgespreek teenoor die familie van slagoffers.