SA se goue seun

Die Suid-Afrikaanse swemmer, Chad le Clos, het geskiedenis by die FINA-Wêreld-kortbadbyeenkoms in Doha gemaak deur die eerste manswemmer te word wat op so ‘n geleentheid goud in drie vlinderslag-nommers wen.

Benewens hierdie doelwit wat die 22-jarige swemmer vir homself gestel het, het hy ‘n bonus gekry deur die 200-vryslag te wen.

Le Clos het die Japanner, Daiya Seto, met ‘n sterk eindpoging in die 200 m-vlinderslag verras en hom met 0.31 van ‘n sekonde geklop.

Hy het dié eindronde gewen met ’n tyd van 1 minuut en 48.61 sekondes. Dis ’n nuwe byeenkomsrekord en net vyf honderdstes van ’n sekonde stadiger as sy eie wêreldrekord.

Hy het ook goud in die 50- en 100 m-vlinderslag verower. Om alles te kroon is hy nou die wêreldrekordhouer in beide die 200 m en 100 m-vlinderslag. Die wêreldrekord in die 50 m-vryslag in die kortbad wink ook vir hom. 

Die Internasionale Swemfederasie (FINA) het Le Clos vereer met die titel as die Wêreld Beste vir 2014. Hy is ook benoem as Sportman van die Jaar by die SA Sporttoekennings in Johannesburg.