Motor rubriek – Fiat 130

Fiat is ‘n motor wat vir baie jare ‘n bekende gesig is op ons land se paaie. ‘n Model wat egter in beperkte getalle na SA ingevoer was, is die Fiat 130. In Italie, die land van herkoms en ook in Europa was dit baie gewild. Dit was deur Pininfarina ontwerp en met die hand gebou. Derhalwe was dit ‘n duur motor wat met byvoorbeeld BMW en Jaguar gekompeteer het. Selfs in padtoetse wat daarmee uitgevoer is, het dit goed met die twee motors vergelyk.  Na verneem word was dit Enzo Ferrari se geliefkoosde motor. Soveel so dat hy blykbaar verkies het om eerder met die 130 te ry as met sy Ferrari 365. Dit opsigself is ‘n goeie getuigskrif. Die 130 was die plaasvervanger vir die bekende Fiat 2300 en daar is gedurende 1969 begin met die produksie daarvan.

Die motor was beskikbaar as ‘n koepee of as ‘n sedan. Die vierkantige bouvorm het later jare inslag gevind in die bekende Fiat 125. Die vierdeur sedan was ‘n gesinsmotor met ‘n keuse van gerieflike leer-of materiaal bedekte sitplekke en groot gedeelte van die binne-afwerking was gedoen met rooshout. Voor is twee komsitplekke gebruik en agter ‘n langbank. Die bestuurder en passasiers kon ‘n gemaklike en gerieflike sitposisie inneem en die motor rit geniet. Die instrumentpaneel het ‘n volledige stel instrumente bevat naamlik ‘n spoedmeter, toereteller, brandstofmeter, oliedrukmeter, water temperatuurmeter en voltmeter. Dit was regvoor die bestuurder gemonteer en duidelik leesbaar terwyl die vloergemonteerde rathefboom binne maklike bereik van die bestuurder was. Vir die stuurstelsell is daar gebruik gemaak van ‘n “wurm-en rollerstelsel” met kraghulp bystand.

Onder normale padtoestande was die padhouvermoë onverbeterlik.  MacPhersonstutte is voor en agter gebruik met wringstaaf hulp voor en spiraalvere en sleeparms agter. Selfs teen hoë snelhede was die padgedrag uitstaande. Dit was instaat tot ‘n snelheid van nagenoeg 190 km/uur. Skyfremme op al vier wiele het verseker dat dit met veiligheid tot stilstand gebring kon word.

Die tegniese spesifikasies van hierdie motor was net so indrukwekkend. Aanvanklik is daar gebruik gemaak van ‘n 2866 kubieke sentimeter V6 enjin met ‘n invalshoek van 60 grade teenoor die Dino Ferrari se V6 enjin wat ‘n invalshoek van 65 grade gehad het. ‘n Enkel nokas is per bank kleppe gebruik maar gedurende 1971 is die boor vergroot na 3235 kubieke sentimeter. Gietyster is vir die enjinblok gebruik en ligte allooi vir die silinderkoppe. Die kraglewering was op daardie stadium ‘n baie bruikbare 165 perdekrag. Krag is deurmiddel van of ‘n vyfspoed handrat- of driespoed Borg-Warner outomatiese ratkas na die agterwiele oorgedra.

Vandag is dit nog steeds ‘n baie gewilde motor vir versamelaars en is nog vrylik beskikbaar in Europa teen ‘n prys laer as die aanvanklike verkoopprys.