Magsug vervang kameraadskap

Sedert 1994 moes Suid-Afrika daagliks hoor en “sien” hoe groot en goed die nuwe land se reënboognasie met sy baie kamerade die suksesverhaal is van een of ander vreemde daad van versoening.

Daar kon nie genoeg klem gelê word op hoe wonderlik die nuwe demokrasie werk wat gelei word deur ’n voormalige terroris wat ’n halwe Nobel ontvang het nie.

Die profetiese woorde van ’n gevierde volksleier het skynbaar in die niet verdwyn – wyse woorde wat dekades gelede as vermaning tot die ganse wêreld gerig is, was skielik waardeloos.

Daardie leier het gesê die land sal in ’n bloedbad verander as die verskillende volke in ’n eenheidstaat saamgegooi sou word…

Sy woorde het sedert 1994 gelyk asof hy verkeerde aannames gemaak het, want liberales het gereeld aangekondig van die “groot vrede” wat neergedaal het in die land.

Nou, twee dekades later, begin die dinge anders lyk.

Magsug het gekom en die “comrades” begin mekaar woel en roei.

Eers was dit oppervlakkig, maar na die haatveldtog van polisie teen mynstakers, het die verskille begin blom. Mynwerkers, vakbonde, nuwe politieke partye, betogings teen hulle eie mense, veertig moorde op mekaar elke dag, lyfwagte vir ministers, en gedurige skorsings van amptenare is maar enkele voorbeelde van ’n duisternis van voorvalle wat finger wys na een oorhoofse faktor: Magsug is besig om die oorhand te kry.

Hierdie toedrag van sake gaan net vererger, en sal uiteindelik lei tot meer konflik onder hulle wat streef na nog meer mag.

Die tyd sal wys wie het reg geoordeel.

Hansie van der Nest

Port Elizabeth