Intimideerder kry bevordering

’n Offisier wat eersdaags op aanklag van intimidasie in die hof moet verskyn is intussen bevorder tot bevelvoerende generaal van die 43 SA Brigade van die Weermag.

Dié Brigade word as die voorste gevegseenheid van die SA Weermag bestempel.

Brig.genl. Xolani Mankayi is nou die nuwe bevelvoerende generaal wat die Brigade sal aanvoer, maar hy moet eers in die hof verskyn op aanklag van intimidasie.

Xolani Mankayi is die opvolger van brig.genl. Lawrence Smit wat tot nou die amp beklee het as hoof van die Brigade.

Mankayi se saak spruit uit ’n voorval in Mei vanjaar toe hy glo na bewering opdrag gegee het dat nagenoeg 100 gewapende soldate met pantservoertuie gemobiliseer word om van hul makkers uit die polisiekantoor in Oudtshoorn te “ontset” nadat die spul deur die polisie in hegtenis geneem is.

Hy het gedreig om die polisiekantoor te vernietig as daar nie gehoor gegee word aan sy eis dat die soldate losgelaat word nie.

Om dit te demonstreer het hy twee peletons weermag soldate opgeroep om stelling in te neem. Hy het ook verskeie rassistiese opmerkings gemaak teenoor polisiebeamptes in Oudtshoorn.

Kenners is van mening dat dit ’n gevaarlike aanstelling is wat gemaak is, en sê sy optrede sou in enige goeie weermag eerder tot ontslag gelei het.

Mankayi is een van 26 wat bevordering gekry het in die Weermag.

Foto – Brig.genl. Mankayi