Hisop nog ‘n geurige kruid van die Bybel

Hyssopus officinalis is ‘n kruidagtige plant in die Lamiaceae (mint) familie. Dit is ‘n baie aromatiese plant en oorspronklik uit Suid Europa, die Midde-ooste en die Kaspiese see. Dit word ook medisinaal gebruik as antiseptiese middel, verlig hoesbuie. Hisop word gebruik om kos mee te geur en die ekstrak word verkry deur die takke, blare en blomme te stoom. Hisop se blare is geneig om bitter te wees en het ‘n intensie mint aroma. Die blare word in slaaie en soppe gebruik vir geur.

Hisop is ‘n struik wat tussen 30 cm en 60 cm hoog groei. Die stam is houtagtig met reguit takke. Die blare is lank, dun en donkergroen en is 2 cm tot 2,5 cm lank. Hulle blom gedurende die somer en verskaf ‘n groot bos welriekende blomme. Die blommetjies is klein en sit al langs die stingels af. Dit wissel tussen wit, pienk, ligpers en donkerpers tot blou en vertoon pragtig.

Hisop is ‘n plant wat maklik groei en dit kan in die kruietuin of sommer tussen die ander plante geplant word. Dit vertoon op hul mooiste in massas aangeplant. Hul sal ook goed aard in potte. Hisop kan redelike droogte weerstaan asook kalkerige en sanderige grond. Dit floreer in volson en warm klimate.

Hisop is alreeds in die Bybelse tye gebruik as medisyne. Hierdie plante word gewoonlik met saad gekweek. Die saad moet 8 weke na die laaste ryp gesaai word en dit ontkiem tussen 2 – 3 weke. Wanneer dit uitgeplant word moet dit omtrent 30 cm uitmekaar geplant word in goeie dreinerende grond. In sommige gebiede sal hulle hulself saai. Die plante kan goed teruggesnoei word na die blomtydperk. Hoe meer hulle gesny word, hoe weelderiger groei hulle. Hulle is bosvormige plante.

Die beste om dit te gebruik is vars, maar kan ook gedroog of gevries word. In warm klimate word hisop 2 maal per jaar geoes en ook terwyl dit nog in blom is. Die takke word afgesny en gedroog. Dit moet in ‘n koel droë goedgeventileerde vertrek gedroog word. Dit neem ongeveer 6 dae om te droog. Byeboere is ook lief om die plante te plant want dit lok bye en maak die heuning baie geurig.

Tuiniers, mag u en u gesinne ‘n wonderlike 2015 beleef. Alle voorspoed word u toegewens en geniet u tuin tot volgende keer.