Geheimsinnige lugrampe tref Ooste

Die derde geheimsinnige lugramp het talle lugvaart kenners aan die raai oor wat werklik gebeur nadat ’n vliegtuig met 162 aan boord skielik vermis geraak het in die Java-see gebied naby Indonesië.

Die Airbus A320-200 van AirAsia was van Soerabaja onderweg na Singapoer toe dit Sondag vermis geraak het.

Weermaglede en vrywilligers van Indonesië, asook mense van Australië en Maleisië help om vas te stel wat van die vliegtuig geword het.

Blykbaar het die vliegtuig afgewyk van sy geskeduleerde roete weens ’n geweldige storm, en dit bemoeilik die soektog omdat daar geen sekerheid is watter roete gevolg is nie.

Die ervare vlieënier wat aan boord was, het geen noodsein gestuur nie, en dit maak die soektog soveel moeiliker, het een woordvoerder later gesê.

Honderde familielede is tans in angs en wag in spanning op moontlike nuus.

Volgens berigte was die laaste kontak tussen die vliegtuig en die Djakarta-beheertoring toe die vlieënier toestemming gevra het om weg te draai en met 10,360 meter te styg om gure weer te vermy. 

Die kaptein van die tuig het meer as 20,000 vliegure gedoen en word beskou as ’n ervare, en professionele vlieënier wat geen kanse sal waag of enige onverantwoordelike daad sal verrig nie, en die vliegtuig is in November behoorlik versien en nagegaan

AirAsia het ’n uitstekende veiligheidsrekord wat oor ’n lang tyd opgebou is.

Kenners meen die moontlikheid is baie sterk dat die vliegtuig te laat weggedraai het vir die storm, en gevolglik in die see beland het.