Eskom sny boere se krag

Alhoewel boere in die Oos-Transvaal hulle rekenings klokslag betaal, word dit summier deur Eskom afgesny “omdat die rekenings nie betaal is nie”.

Een boer het ’n rekening van byna R800,000 gekry, en alle pogings om die fout reggestel te kry, het tot hede klaaglik misluk.

’n Tweede geval is aangemeld waar ’n boer, te midde van voldoende bewyse dat die rekening ten volle betaal is, ’n rekening gekry het van R400,000, en is die krag blykbaar sonder waarskuwing afgesny weens sogenaamde “wanbetaling”.

Dit het die man gedwing om sy regsverteenwoordiger te vra om op te tree aangesien sy rekening selde bokant R10,000 per maand is, en klokslag betaal word.

Alhoewel ’n dispuut met Eskom verklaar is en daar nou eers op die kragreus se reaksie gewag word, sit die boer met sy hande in die hare.

Die prokureur sê as Eskom nie na wense reageer nie, sal hulle genoodsaak wees om ’n dringende interdik te kry by die hooggeregshof.

’n Ander boer se krag is afgesny omdat hulle glo R10,000 agterstallig is, en daarom sit hulle sedert 19 Desember saans in die donker by kerslig.

Kenners sê dit is vreemd dat Eskom so optree, terwyl derduisende in swart woongebiede steeds krag het terwyl hulle nog nooit ’n rekening betaal het nie.