Duitsers betoog teen Islam

Meer as 17,000 Duitsers het deelgeneem aan Duitsland se grootste anti-immigrasie protes in Dresden.

Duisende het opgedaag en bekende kersliedere soos "Stille Nag" en "O, die Vrolike" gesing terwyl hulle plakkate met woorde soos "Ons land, ons tradisies" geswaai het.

Die protesoptog is deur ‘n vinnig-groeiende voetsoolvlakbeweging PEGIDA (Patriotiese Europeërs teen die Islamisasie van die Weste) gereël.

Die leier van PEGIDA, Lutz Bachmann, het die betogers toegespreek en gesê "Duitsland is nie ‘n land vir immigrante nie."

Bachmann het PEGIDA in Oktober gestig met ‘n oproep op sosiale media om te protesteer teen Dresden se planne om 14 sentrums vir 2,000 vlugtelinge te verskaf.

Verlede week het 15,000 mense Bachmann se oproep ondersteun en sy beweging is besig om ‘n verleentheid vir Duitse politici te word. Alle betogings verloop vreedsaam, hoewel daar dikwels ook teen-betogings deur ander groepe gereël word.

PEGIDA hou by die standpunt dat die Duitse kultuur vernietig word deur Moslems en ander immigrante.

Duitsland het vanjaar aan meer as 200,000 vlugtelinge assiel gegee.