Beter handelsbalans vir November

Alhoewel beide uitvoere en invoere vir November laer was as verlede maand was die netto effek ‘n kleiner handelstekort wat op R5.7-miljard geëindig het.

Invoere het R89.7-miljard beloop wat 18.7% laer was as in Oktober terwyl uitvoere 5.3% laer was en op R84-miljard gestaan het.

Teenoor die vorige maand het uitvoere in die mynsektore met R991-miljoen gestyg wat 7.3% hoër was, terwyl die vervaardigingsektor se uitvoere met R4.03-miljard gedaal het. Aan die invoerkant het motorvoertuie, masjinerie en elektroniese toerusting en verwante onderdele met R5.2-miljard gedaal vir November.

Die maand se handel met Asië het ‘n nadelige saldo van R16.7-miljard getoon en Europa ‘n tekort van R9.9-miljard. Handel met Afrika het positief geëindig op R7.0-miljard met uitvoere daarheen van R15.6-miljard.

Die opgelope tekort vir die jaar staan tans op R101.1-miljard teenoor die vorige jaar se ooreenstemmende tydperk se R73.2-miljard.

Die land se bruto reserwes het in November met 0.3% gedaal tot $48.5-miljard teenoor die vorige maand se $50-miljard.