2014

Wat ‘n interessante jaar. Om ‘n oorsig te doen oor die jaar 2014 is soos om deur ‘n skooljaaarboek te kyk en oor jou skooljare terug te dink. Die meeste daarvan wil jy liefs vergeet maar tog is daar rede om oor baie daarvan te lag. Hier is my oorsig oor 2014.

2014 was die jaar van die trein, motorkar of passasierskip ( Let wel, nie veerboot nie). Die rede hiervoor is natuurlik dat in hierdie jaar het mense dit reggekry om hele vliegtuie te misplaas asof dit ‘n stel kar-sleutels is. Voor die Swart boks (wat terloops gewoonlik geel is!) vir jou kan sê wat met die vliegtuig gebeur het, moet jy dit eers kan opspoor. Mens sou dink dat jy in vandag se dae waarin jy jou dogter se bewegings deur middel van ‘n selfoontoep kan volg tot by die partytjie waar tienerseuns gedagtes het, mens iets soos ‘n vliegtuig met ‘n opspoorstelsel sou kon volg. Dis nie asof die goed deur Bermuda se driehoek gevlieg het nie!

Verder was 2014 die jaar van die ontvoerterroriste. Om een of ander rede kan mense nie leer om nie te wil fotos neem/ skole bou/kos aandra/siektes beveg/toer in lande waar westerlinge gesien word as lopende kontant nie. Hierdie jaar was groepe soos die Bokhaar mense en die Kr-Isis wel so besig dat hulle nie eers net westerlinge gegryp het nie maar enige iemend wat vir hulle ‘n losprys kan verdien of as seksslaaf verkoop kan word. Hierdie groepe het hierdie jaar die prys vir aktiefste terroriste van die jaar weggeraap by die Somaliese seerowers wat nou skielik lyk soos ‘n speelgrondbende.

Die jaar 2014 was ook die jaar van die ontbloting van die Suid Afrikaanse regstelsel. Al het Oscar geen voet gehad om op te staan nie het sy openbare verhoor sy regter so onder druk geplaas dat sy haar gemaklik gemaak get tussen die klip en die harde plek met ‘n middeweg uitspraak wat van die grootste regskenners laat stotter het soos ‘n groep IT – studente by ‘n Victoria’s Secret modeparade. Daarby ook die saak van die vreeslike sieklike en orientasieverwarde Dewani.  Dit is net hierdie land wat soveel tyd en geld sal spandeer daaraan om iemand in ons hof te kry sodat ons hom kan vryspreek en terugstuur. Persoonlik dink ek dat hy van ‘n tronk sou hou…

Verder was dit die jaar van nog sinnelose bekgevegte tussen liberale en effe minder liberale “glans”persoonlikhede, korrupsie, onbevoegde regering ens. maar dan is elke jaar die jaar daarvan!

Sterkte vir 2015!

Tot volgende slag

Die Sweep