Zuma vermy parlementsittings

Pres. Jacob Zuma is blykbaar besig om enige parlementsitting te vermy, uit vrees dat hy vrae sal moet beantwoord waarvoor daar nie goeie antwoorde is nie.

Dit is die mening van politieke ontleders na aanleiding van die nuutste optrede van die president, wat laat in verlede week ’n paar skriftelike vrae ook skriftelik geantwoord het, sonder om ’n voet in die parlement te sit.

Pres. Zuma het verlede Donderdag vyf vrae skriftelik geantwoord, wat die stryd teen hom nog verder verskerp het wat deur lede van opposisiepartye begin is.

Een van die vrae wat Zuma glo geantwoord het, was gemik op watter optrede die president in gedagte het teen amptenare wat nie behoorlike dienslewering laat versnel nie. Hierop het Zuma geantwoord dat hy self ook bekommerd is oor die swak optrede en prestasies, asook die korrupsie en bedrog wat ondervind word.

Al die vrae het ’n strekking van vaagheid, is die opmerking wat een van die opposisiepartye gemaak het.

“Sy opmerking dat daar ’n kragtige stelsel in plek geplaas gaan word teen korrupsie, is om van te glimlag,” het hy gesê.