Zuma in nog ‘n rondte beskerm

Die brose skietstilstand in die parlement se Nasionale Vergadering (NV) het tydens die pas afgelope sitting ontaard in na-apery truuks om president Jacob Zuma te beskerm. 

Die ANC het die opposisie se vertragingstaktieke nageboots om te verhinder dat ‘n mosie van sensuur teen president Jacob Zuma ingestel word. Die opposisie het dit egter met humor begroet en hartlik daarmee saamgespeel.

Dit was ‘n na-apery van die opposisie wat die debat oor die ad hoc-komitee se Nkandla se verslag verlede week vertraag het.  

Hierdie terugbetaling in eie munt het eenvoudig behels dat die ANC ‘n magdom kennisgewings van mosies gebring het.

Die vraetyd is tydens die pas afgelope sessie tot heel laaste uitgestel en toe dit uiteindelik aanbreek, het vrae opgeklink soos: “waar is die president?” “Waar is Jacob Zuma”, “Waar is Nommer Een?” en “Waar is jou buurman?”

Parlementslede van opposisiepartye is baie warm onder die kraag omdat Zuma nie voor die einde van die jaar, soos parlementêre reëls vereis, vrae in die NV sal beantwoord nie. Die opposisie het gepoog om by wyse van ‘n mosie Zuma te sensureer omdat hy nie in die huis verskyn om vrae te beantwoord nie.

Die adjunk-president, Cyril Ramaphosa, se ‘diplomatieke’ pogings om die vrede te bewaar, het by tye gedreig om lelik te ontspoor. Sy poging om die nasionale vergadering se “statuur en stand onder die mense te herwin as ’n huis wat gerespekteer kan word wat die wette van die land maak,” soos hy dit verwytend gestel het, het eintlik gesneuwel.

Hy het die opposisie daarvoor blameer, maar dié het eenvoudig gesê die geloofwaardigheid van die parlement kan nie herstel word voordat Zuma mondelinge vrae beantwoord nie.