Yslike tragedie speel af in botsing

’n Motorbestuurder het met sy hande in die hare gesit langs sy voertuig nadat hy met ’n motorfiets gebots het wat hy klaarblyklik nie gesien het nie.

Nadat die geskokte man besef het wat gebeur, het hy gesê hy het nie die motorfiets gesien nie, en hy wil nie tronk toe gaan vir die ongeluk wat hy veroorsaak het nie.

Die voorval het glo plaasgevind op die R55 naby Pretoria.

Die inwoners van die Olievenhoutbosch-plakkerskamp tussen Johannesburg en Pretoria het die R55 met klippe, brandende motorbande, vullis en ander rommel versper.

Mnr. Brett Kiley se bakkie het die motorfiets met ’n harde slag getref, wat die fietsryer se dood veroorsaak het.

Kiley en sy passasiers kon betyds uit die bakkie spring nadat beide voertuie in vlamme uitgebars het.

Ooggetuies sê hulle kon sien hoe die motorfiets teen ’n verbysterende spoed aangejaag gekom het, en sekondes later het dit teen die bakkie gebots.

Die metropolisie was gou op die terrein en kon die verkeer reguleer.

Kiley het ’n u-draai op die pad gemaak om die betogers se optrede te probeer vermy, en dit is toe dat die voortsnellende motorfiets teen hom vasgejaag het.

Antoinette van Zijl, sy verloofde, werk in Midrand en was gou op die toneel om hom te ondersteun.

Die polisie woordvoerder sê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.