Woolies weer in gedrang oor invoere

’n Kaapse drukgroep wat ten gunste van die Palestyne is, wil nou met aksies begin om kettingwinkels te dwing om hulle invoere uit Israel te staak.

Die drukgroep, die Nasionale Koalisie vir Palestina, wat in Kaapstad gesetel is, wil begin met hulle aksies deur druk op Woolworths te plaas oor hulle invoere van verskeie produkte soos granate en vye uit Israel.

Hulle eis dat die kettingwinkel sy invoere uit Israel staak, en wil ook met aksies begin teen Pick ’n Pay, Foschini, Clicks en Dis-Chem, wat glo almal goedere verkoop wat afkomstig is uit die Israelitiese staat.

Die organisasie, bestaande uit ’n koalisie van sowat 28 verskillende organisasies gaan glo ’n volskaalse boikot teen die winkelgroepe begin.

Een van die organisasies, Boycott, Divestment and Sanctions (BDS) word deur Woolworths gedagvaar, en waarnemers meen dit kan as ’n Moslem-betoging teen Israel gesien word, aangesien die meste organisasies wat daaraan deelneem, hoofsaaklik Moslems is.

’n Woordvoerder van die Koalisie het dit egter ontken en gesê dit gaan oor die vryheid van Palestina.

’n Afrikaans sprekende, ene Stephanie du Plooy, verbonde aan Palestine Solidarity Stellenbosch (PSS) reken dit sal Woolworths geensins iets in die sak bring om BDS te probeer hok slaan met ’n hofbevel nie, want die veldtog word deur verskeie ander organisasies gedryf.

’n Woordvoerder van Palestine Solidarity Forum by die Universiteit van Kaapstad reken die verbruikers moet Woolworths boikot.

Marthie Momberg, ’n  aandeelhouer in Woolworths, het blykbaar namens Kairos Suider-Afrika gesê kommer bestaan oor die baie Christene wat die staat Israel en die onderdrukking van Palestyne ondersteun.