Vrou pak Suidpool met trekker

Die finale been van ‘n ongelooflike reis word binne enkele dae ‘n werklikheid vir die  Nederlandse avonturier, Manon Ossevoort, wanneer sy met ‘n trekker die Suidpool gaan oorwin.

Sy wil ‘n sirkelroete van bykans 5 000 km oor die grootste enkele massa ys op aarde, vanaf die vliegveld by die Russiese Novo-navorsingsbasis in die oostelike deel van Antarktika na die Suidpool en weer terug tot by die beginpunt voltooi.

Die aanvallige 38-jarige aktrise is in staat om haar tog aan te pak danksy borgskappe van Massey-Ferguson en ander maatskappye. ‘n Ondersteuningspan sal haar vergesel terwyl ‘n filmspan die reis op film sal vasvang.

Die MF-trekker waarmee sy oor die ongenaakbare landskap sal kruip, word Antarktika2 genoem ter ere van Edmund Hillary wat in 1958 met ‘n spesiaal aangepaste Ferguson TE20-trekker na die Suidpool gery het.

Die plan is om dag en nag te ry vandat hulle op 20 November vertrek en daarom sal die span se Franse werktuigkundige, Nicolas Bachelet, hand bysit met die bestuurdery. Die span hoop om teen Kerstyd weer terug by hulle huise te wees na hulle avontuur aan “die einde van die wêreld” soos Manon dit noem.

Vir Manon is hierdie ‘n droom wat waar geword het aangesien haar pelgrimstog reeds in 2005 begin het toe sy vier jaar geneem het om met ‘n trekker van haar tuisdorp in Nederland tot in Kaapstad te ry. Sy het weens oponthoude die boot verpas wat haar na Antarktika sou neem. Sy het die volgende vier jaar in Nederland deurgebring en onlangs weer na Suid-Afrika teruggekeer om die finale been van haar droomreis te voltooi.

Manon wil ‘n yslike sneeuman by die Suidpool bou waarin sy die derduisende e-posse en stukkies papier van mense se drome (en ideale) wat sy regoor die wêreld bymekaar gemaak het en tot digitale vorm verwerk het, wil plaas. Dit moet  eers oor 80 jaar oopgemaak word.